BUURMAN TROU MET DIE VERKEERDE VROU!!!

SON

Liewe Antie Mona
Is dit die moeite werd om verlief te wees op jou suster se man? – via SMS-lyn 

 

  Niks daaraan maak dit die moeite werd nie. Tensy jy soek vir ’n rede om die verhouding met jou suster en die res van jou familie vir ewig op te neuk.

As jou swaer dalk sy luck by jou try en dié feelings by jou aanwakker, stel ek voor jy stuit hom so spoedig moontlik in sy spore. Kry vir jou ’n ander man, liefie.

Verkieslik een wat nie aan enige ander vrou behoort nie. Glo my, dié verliefdheid is nie die trauma en drama werd waardeur jy jouself en ander sal sit nie.




Liewe Antie Mona
Ek het ’n probleem met ’n man saam met wie ek werk.
Elke dag trek hy my uit met sy oë.
As ek hom vra hoekom hy so na my kyk, sê hy dat hy maar net kyk.
Wat moet ek doen? – Raadop 

 

  Nee, genade! ’n Mens se salaris is klaar scary as om nog met sulke creeps opgeskeep te sit. Liefie, g’n mens “kyk maar net” na ’n ander mens nie.

Laat hom verstaan dat sy loerdery jou ongemaklik maak en jy sal verkies dat hy eerder sy werk beloer. Jy is immers nie ’n gereg op die menu nie.

Laat hom ook verstaan dat jy jou tot management gaan wend en hom sal verkla as hy nie sy loerdinge laat staan nie. Waar wil hy dan wees?

Daai loerbroer reality shows is mos lankal uit die fashion.


Liewe Antie Mona
My man is oorlede en hier is ’n man in die straat wat baie erg oor my is. Hy het voor my man se dood na my gekom en gesê hy is lief vir my en kan nie van my wegbly nie.

Hy sê hy het met die verkeerde vrou getrou en as hy geweet het my man sou doodgaan, sou hy nie met sy vrou getrou het nie, maar met my.

Ek is ook mal oor hom, al weet ek dit is verkeerd. Maar dit het net gebeur.
Gee raad, asseblief, Antie. – via SMS-lyn 

 

  Ek sal graag wil weet hoe iemand met die verkeerde mens trou.
Dis mos nie asof jy iets deur die pos of op die internet bestel het, en toe land die verkeerde paar skoene op jou voordeurstoep nie. Dié man se karakter maak my kriewelrig.

Watter man gaan kuier by ’n vrou wie se man op sterwe lê en dan begeer hy al daai vrou? Dít ondanks die feit dat hy ’n vrou van sy eie het. Verkeerde vrou ofte not.
Vrou, jy moet daarteen waak dat dié man jou brose ego so met sy mooi woordjies streel.

Die absolute realiteit is dat hy ’n getroude man is. ’n Man met ’n vrou en dalk kinders ook. ’n Man wat veronderstel is om sy eie “verkeerde” vrou met sy mooi woordjies te serenade. Daar is mans én vrouens in dié wêreld wat met die wonderlikste verskonings vorendag kan kom.

As jy dít nog nooit in die lewe geleer het nie, dan weet ek darem nie so mooi nie.
Wanneer jy ’n geskeide man of iemand ontmoet wat in ’n troublesome huwelik is en hulle kla net oor die ander een in die verhaal, moet daar alarmklokkies by jou lui.

’n Huwelik of ’n verhouding kom nie net van een kant nie. So is dit ook die geval met die probleme in daai verhouding of huwelik.

Shame, en dan kry jy die arme man só jammer dat jy nie eens oor sy motiewe wonder nie. As hy so met die verkeerde vrou getrou het, hoekom skei hy haar nie?
Hoekom bly hy haar saamsleep in dié “liefdelose” huwelik?

Jou man is mos nou dood. Hoekom maak hy dus nie sy “verkeerd” reg nie?
Het jy hom al dit gevra? Daai jong is agter net één ding aan.

Die Son