PASTOOR MOET BID OOR MEISIE! WAT GAAN EK MAAK AS MY VROU UITVIND?

pastoor

Liewe Antie Mona
Ek is amper ’n pastoor in my kerk. Ek soek raad, want ek dink ek gaan van my kop af raak. Ek was verlief op ’n meisie. Ons het selfs so nou en dan iets aan gehad, maar sy het toe getrou. Ek is ook getroud.

Ek is nog lief vir haar en as ek haar sien, kan my ingewande dit nie hou nie. Dink Antie sy kan nog iets vir my voel? Of is ek sommer laf?  Ek is nog baie, baie lief vir haar. Wat gaan ek maak as my vrou uitvind?

Sy is party dae net ’n troos vir my.
– Pastoor

 

  Praat van ongoddelik! En dan wil jy nog ’n pastoor word?

Wat gaan jy vir jou gemeente preek? Hoe om ’n ander man se vrou te begeer? Soos ek kan aflei, was jy verlief op die meisie toe jy al getroud was.

Sy het dalk iets vir jou gevoel, maar het gesien die verhouding gaan niks verder kom nie, daarom het sy getrou. Jy vra wat gaan jou vrou maak as sy uitvind? Sy gaan jou natuurlik uitskop.

Jy moet nou regtig begin bid oor die saak. Probeer aan haar dink as iemand wat net ’n vriendin behoort te wees. Dink aan jou lieflike vrou en jou toekoms as pastoor.

Jy wil dit tog seker nie nou alles gaan opmors omdat jy “verlief” is nie. Bly uit die meisie se lewe.

Dit is die beste vir jou.